Talk About Network

Google


Register and Login
Nick
Password
Register create new account Sign up is FREE and you can post replies, new topics, bookmark posts and more!
Recover lost password


Education > Languages Afrikaans > Re: Hotel Rwand...
Latest [ Topics | Posts ] Archive Post A New Topic Post a Reply
<< Topic < Post Post 6 of 9 Topic 405 of 492
Post > Topic >>

Re: Hotel Rwanda

by nospam@[EMAIL PROTECTED] (Ferdi Greyling) Apr 24, 2006 at 09:51 AM

On 22 Apr 2006 12:25:01 -0700, bouwer@[EMAIL PROTECTED]
 wrote:


<<>            Hy is verlede jaar benoem as senator en is nou 'n
>            populêre spreker en seker tot 'n groot mate herstel
>            van die trauma van Rwanda.>>

Woensdag 2 Maart 2005 bl. 11
Beeld
Johannesburg Finaal
Illustrasie: grafika
foto: volkleur
Dodelike déjà vu
Lt. genl. Dallaire wéét daar is 'n God, want in Rwanda het hy hand
geskud met die duiwel

Die internasionale gemeenskap moet nóú uit die lesse van Rwanda leer
voordat dit in ander Afrikalande te laat is, het lt.genl. Roméo
Dallaire gepleit toe hy Suid-Afrika verlede week besoek het. Liezel de
Lange doen verslag.

'Ek weet daar is 'n God, want in Rwanda het ek die duiwel se hand
geskud. Ek het hom gesien, geruik en aan hom geraak.

"Ek weet die duiwel bestaan. Daarom weet ek ook daar is 'n God."

Lt.genl. Roméo Dallaire, hoof van Unamir - die Verenigde Nasies (VN)
se vredesending in Rwanda - tydens die menseslagting in 1994, kon eers
nege jaar daarna sy ervarings neerpen in die boek Shake hands with the
devil: The failure of humanity in Rwanda .

Hy moes eers met sy eie demone worstel - die terugflitse,
teleurstelling, bitterheid, woede, skuldgevoelens en moedeloosheid.

Die hope lyke op die vragmotors, langs die paaie en in die huise,
kerke en riviere spook steeds by hom. En die honderdduisende Rwandese
wat vergeefs op die wêreld gewag het om te help . . .

Dallaire het in 1994 na sy gesin in Kanada teruggekeer. Maar Rwanda
het diep letsels gelaat. Dit was eers nadat hy dié letsels deur sy
werk in die weermag probeer verswelg het, nadat hy probeer selfmoord
pleeg het en dronk onder 'n parkbankie in Quebec beland het, dat hy sy
lewe kon hervat.

Maar die wêreld het hom doof gehou

Dallaire is pynlik netjies en kiertsregop - soos dit 'n militêre man
betaam - toe hy by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in
Pretoria 'n lesing gee oor hoe vredesmagte 'n herhaling van die
Rwandese tragedie kan voorkom. Hy wy nou sy lewe aan studies en
lesings oor konflik en vredesendings.

Sy woorde is soms grappig-bitter, maar sy oë bly deurgaans dodelik
ernstig wanneer hy vertel hoe die wêreld Rwanda in die steek gelaat
het.

Dallaire het in Oktober 1993 in Rwanda aangekom as bevelvoerder van 'n
VN-vredesmag bestaande uit sowat 2 500 soldate van Ghana, België,
Bangladesj en Tunisië. Sy pogings om by die VN se veiligheidsraad 5
500 troepe te kry, was vrugteloos.

Unamir moes die inwerkingstelling van die Arusha-vredesverdrag tussen
die Tutsi's se Rwandese Patriotiese Front (RPF) en die Hutu-regering
monitor.

Minder as 'n jaar later moes Unamir magteloos toekyk hoe etniese haat
weer opkook en meer as 800 000 mense in 100 dae grusaam vermoor is.

Dallaire het maande vroeër al die tekens gelees en daagliks verslae na
die VN-hoofkantoor in New York gestuur.

Hy het alles aangemeld - die s****adiese grumoorde op Hutu-burgerlikes
met te voor die hand liggende bewyse dat dit die RPF was.

Die gevolglike haatspraak waarin die staatsradio Hutu's aangespoor het
om die inyezi (Tutsi-"kakkerlakke") te identifiseer (om hulle later te
vermoor). Die Hutu-regering se ontkenning van die bestaan van
wapenopslagplekke oral in die hoofstad Kigali . . .

Dallaire se pleidooie vir 'n mandaat om die jong Hutu-bendes te
ontwapen, het op dowe ore geval. Mnr. Kofi Annan, destyds hoof van
VN-vredesoperasies (nou sekretaris-generaal), het botweg geweier dat
Unamir op die wapenopslagplekke toeslaan.

In Februarie 1994 is mnr. Félicien Gatabazi, 'n gematigde Hutu,
vermoor nadat hy ekstremistiese regeringslui aangevat het. "Die
giftige pot van etniese haat is behoorlik omgeroer en was op die punt
om oor te kook," vertel Dallaire.

Teen 6 April het die veiligheidsraad gesê Unamir sal onttrek as die
Rwandese oorgangsregering nie ingevolge die Arusha-ooreenkoms aan
bewind kom nie. Later dié aand is pres. Juvénal Habyarimana, die
Hutu-leier, se vliegtuig oor Kigali neergeskiet.

Die RPF het die skuld gekry en die werklike bloedvergieting het begin.

Duisende vreesbevange Tutsi's en gematigde Hutu's het in VN-geboue
gaan skuil terwyl die presidensiële wag en interhamwe (militante
Hutujeugbendes) mense in hul huise en by padversperrings uitgemoor
het.

Dallaire onthou hoe duisende lyke op vragmotors weggery is terwyl die
bloed swart deur die bakwerk gesyfer het.

Help! En dan die stilte van 'n dooie lyn

"Honderde mense het in die kerke geskuil, waar die aanvallers hulle ry
vir ry met kapmesse afgemaai het. Rwanda se kerke het slaghuise
geword. Mense het God se beskerming daar gaan soek, maar in Lucifer
(die duiwel) se arms beland."

Dallaire het bly smeek vir nog troepe en toerusting, maar die wêreld
het gesê hy kan niks doen nie. Honderde troepe het in Rwanda aangekom
om buitelanders te ontruim. Dallaire vertel hoe desperate Rwandese
moes toekyk hoe Franse troepe hul werkgewers na veiligheid bring.

Tien Belgiese vredesoldate is in Kigali vermoor (iets waaroor Dallaire
hom steeds kasty) en België het besluit om sy magte te onttrek.

Die interhamwe het sowat 2 000 Rwandese wat by die Belgiese basis by
die Dom Bosco-skool geskuil het, afgemaai. Franse troepe het die
buitelanders by die skool betyds ontruim.

Dallaire se bitterheid jeens die Belgiese onttrekking slaan steeds
deur.

"Hier staan ek en toekyk, in die hart van een van die Belgiese koning
se voormalige kolonies, hoe die Belgiese troepe ons in die steek laat
te midde van een van die grootste slagtings van die eeu. En dit omdat
van hul beroepsoldate in die uitvoering van hul pligte dood is.

"Ek is gelos om met 'n klein mag 'n misdaad teen die mensdom te
aanskou waarvoor die Belge onwetend die grondslag gelê het." (België
het in die koloniale era die saad vir etniese konflik gesaai deur die
minderheid Tutsi's bo die meerderheid Hutu's te verhef.)

Intussen moes Dallaire met sy beperkte troepe probeer om diegene te
beskerm wie se name op die moordbendes se lyste was.

"Dit was angswekkend en surrealisties om met iemand te praat
(telefonies), soms iemand wat jy ken, om hulle te hoor smeek om hulp.
Om niks te kan doen nie behalwe die versekering te gee dat hulp op pad
is, en dan die gille te hoor, die skote, en die stilte van 'n dooie
lyn."

Dallaire praat baie oor sy hulpkrete wat nooit beantwoord is nie. Oor
die VN wat nie hulpbronne vir Rwanda gehad het nie terwyl massas
VN-hulp in Joego-Slawië ontplooi is. Oor die wêreld wat dit eers ná
ses weke 'n volksmoord genoem het.

Oor die ryk lande wat geweier het om soldate en infrastruktuur te gee.
Oor die Amerikaners wat nie die aanhitsing op die staatsradio wou keer
nie.

"Hulle het gesê Rwanda is 'n soewereine staat en dit sou te veel kos,
$8 500 per uur om 'n vliegtuig op te stuur wat die radioseine
blokkeer."

Hy was bang hy skiet die 'duiwels' dood

Dallaire het verseg om mnr. Boutros Boutros-Ghali, destyds
sekretarisgeneraal van die VN, se opdrag uit te voer om aan Rwanda te
onttrek.

"Ek het twee maal geweier. Die opdragte was wettig, maar immoreel. Ek
het 30 000 Rwandese onder my beskerming gehad. Hulle sou geslag word."

Dallaire het selfs so ver gegaan om met die interhamwe te onderhandel
om vlugtelinge deur hul gebiede te bring. Hy beskryf hoe hy voor een
só 'n ontmoeting die ammunisie uit sy vuurwapen gehaal het - hy was
bang dat hy in 'n onbesonne oomblik op die leiers sou losbrand.

"Op pad terug na die hoofkantoor (na dié ontmoeting) het ek gevoel ek
het met die duiwel hande geskud."

Dallaire meen talle betrokkenes moet die blaam dra vir die
menseslagting. "Daar is geen twyfel nie dat die Rwandese volksmoord
eerstens die verantwoordelikheid was van diegene wat dit beplan,
bestuur en uitgevoer het."

Maar die wêreld moes meer gedoen het. "As ek die 5 000 soldate gekry
het (waarvoor hy gevra het), sou ons dit gestop het."

Hy blameer ook homself. "Ek kon nie die internasionale gemeenskap
oortuig dat dit die moeite werd is om dié piepklein, arm en
oorbevolkte land en sy mense van 'n volksmoord te red nie."

En nou word dieselfde foute elders in Afrika begaan . . .

• Die artikel is gegrond op Dallaire se lesing by die ISS en sy boek.

Onderskrif: Lt.genl. Roméo Dallaire
 




 9 Posts in Topic:
Hotel Rwanda
bouwer@[EMAIL PROTECTED]   2006-04-21 18:23:29 
Re: Hotel Rwanda
"Annette" <a  2006-04-22 17:44:22 
Re: Hotel Rwanda
"Otterkop" <  2006-04-25 06:40:06 
Re: Hotel Rwanda
"Annette" <a  2006-04-25 07:00:48 
Re: Hotel Rwanda
bouwer@[EMAIL PROTECTED]   2006-04-22 12:25:01 
Re: Hotel Rwanda
nospam@[EMAIL PROTECTED]   2006-04-24 09:51:41 
Re: Hotel Rwanda
"Armando Pellencin&q  2006-04-24 15:45:58 
Re: Hotel Rwanda
bouwer@[EMAIL PROTECTED]   2006-04-22 15:38:04 
Re: Hotel Rwanda
bouwer@[EMAIL PROTECTED]   2006-04-24 18:07:19 

Post A Reply:
  Go here to Signup

AddThis Feed Button


About - Advertising - Contact - Frequently Asked Questions - Privacy Policy - Terms of Use - Signup

Contact
tan12V112 Fri Nov 21 19:35:21 CST 2008.