'Ek gaan hom nie mis, want PW leef in my koor van narre'
Nov 02 2006 07:05:37:160AM - (SA)
Pieter-Dirk Uys
Ek was by die Edinburg-fees met 'n vertoning toe P.W. Botha bedank
het as Suid-Afrika se staatspresident.
Yskoud geskrik. My tentpaal was weg!
F=2EW. de Klerk was onbekend.
Die feit dat hy so na aan P.W. gelyk het - selfde kaalkop, selle
bril, amper dieselfde voorletters en beslis dieselfde probleem - het
min reaksie uitgelok.
'n Era was beslis verby. P.W. Botha was terug in die wildernis waar
hy hoort.
Sedert daardie dae was my spotbeeld van hom nommer een op my
slagparade.
Die groot krokodil. Vinger en tong.
"Suid-Afrika is . . . Suid-Afrika is . . . Suid-Afrika is . . . !"
Soos Frank Sinatra "I did it my way" moes sing, is ek vasgevang in
die sukses van my na-aapsel.
Sy kinders het saam met my en my suster in ons pa se koor gesing,
destyds toe oom P.W. minister van verdediging was.
Tannie Elize was altyd dierbaar en lief, maar die minister altyd besig
heen en weer, vinnige klapsoen op Mamma se wang en uit. Toe stuur sy
mense my weermag toe.
'n Nare kamp by Potchefstroom om trokke reg te maak.
Eina nee! My naels! Ek skryf toe aan oom P.W.
"Asseblief, kan ek vloot toe gaan?"
Hy't my nepotisties voorgetrek en ek was heerlik in die vloot vir
nege maande sonder om 'n voet op 'n boot te sit. En my naels behou!
1980.
Op die swart-wit-TV in Melville, Johannesburg. Eerste minister P.W.
Botha waai daardie vinger en bulder: "Adapt or die!"
My oomblik van inspirasie.
Vir al daardie jare van sy imperialistiese aftakeling van Suid-Afrika,
was hy altyd die hoogtepunt van my komedie.
Mense het begin lag vir hulle vrees. En dit maak daardie vrees minder
vreeslik.
Hulle't tot vir hom gelag op die SAUK-nuusflitse.
"Maar dis nie ek nie," het ek probeer oorreed.
"Dit was net so snaaks soos jou P.W.," was die antwoord.
As humor gehelp het om hom uit Tuynhuys te help, dan is ek bly.
Ek gaan hom nie mis nie, want P.W. Botha lewe nog steeds in my koor van
politieke hansworse. Daar is 'n ou man dood in die Wildernis laataand
op 31 Oktober.
My hart gaan uit na sy familie. Vanaand sit ek weer die hoed op, en die
bril, en die vinger begin waggel en almal sal lag, want hulle weet,
lewend of dood, is dit nie meer ter sake nie.
Die feit dat hy rustig in sy bed kon sterf en nie in 'n tronk of in
ballingskap nie ten spyte van alles, s=EA baie vir ons jong demokrasie.
P=2EW. is gister.
Ons is vandag.
M=F4re se Rubicon l=EA vir almal nog voor.


|